Umuzi Rights Catalogue Buy Umuzi Books Contact Umuzi Umuzi Books Umuzi Writers Umuzi Home Page



222 mm x 146 mm sagteband, 224 bladsye
AVP R150, ISBN 978-1-4152-0083-4
Publikasiedatum: Julie 2009, Kategorie: Fiksie


Beskrywing
Drie geslagte vroue se wel en wee is verweef in dié verhaal van hoop waar hoop soms wil beskaam. Dit is dié vroue, en ’n hele gemeenskap in die Overberg, se verhaal.
Daar is Lilly, met die voorkindjie, en die pastoor wat sy oog op haar het. Sy probeer ’n skuiling vir die dakloses oprig, maar teen groot weerstand in. En haar ma, Frieda Daniels: ’n raakvatter, voorvrou by die appelfabriek, by die gebedsgroep en met liefdadigheid. Maar sy het blou kolle op haar, en gekraakte ribbes. Frieda is ’n sterk vrou, maar hiervoor moet sy verskonings uitdink.
Frieda se grootmaak-ma, Antie Mina, moet magteloos toekyk, maar net tot op ’n punt. Een nag tree sy op, sy wat Frieda se beskermengel is, sonder om die gevolge te ontsien.
Bettina Wyngaard se roman Troos vir die gebrokenes gee ’n sonderlinge binnekyk op ’n plattelandse bruin gemeenskap en die onvergeetlike karakters wat ten spyte van alles die lewe vol in die oë kan kyk.

Uit Troos vir die gebrokenes, bladsy 11
Frieda Daniels teug dankbaar aan die warm koffie wat Lilly gemaak het. Sy kan die hitte van die stoom teen haar wang en voorkop voel. Sy vou haar vingers om die beker om bietjie van die warmte in haar hande te kry. Dis net ná vier in die oggend en nog pikdonker buite. So teen vyfuur sal die bus hulle kom oplaai en fabriek toe neem. Almal op die bus sal nog half slaperig wees, maar teen die tyd dat hulle by die fabriek aankom, moet hulle wakker en gereed wees om te begin appels pak en elke ander soort vrugte wat deur die dag mag inkom.
        Ná al die jare is sy steeds nie gewoond daaraan dat sy in die somer winterklere moet aantrek nie, maar die stoorkamers word so koud gehou om die vrugte te beskerm dat dit soos winter voel in die fabriek. Onder die groen waterskoene het sy haar dikste sokkies aan, en oor haar sweetpakbroek en rok dra sy ’n dik bruin trui onder haar dun moulose wit trui. Die blou Retief & Seuns-oorjas wat haar identifiseer as toesighouer – of voorvrou, soos die pakkers haar noem – rond die uitrusting af.

Lees verder


Lees ’n artikel oor Troos vir die gebrokenes in Huisgenoot.

Lees Anastasia de Vries se onderhoud met Bettina Wyngaard in Rapport.

Lees ’n artikel in die District Mail.

Lees Minnie Lewis se resensie op LitNet.

Lees ’n resensie in die Volksblad.


Om hierdie boek te koop
www.exclusivebooks.com
www.kalahari.net



home   writers   books   contact   buy   rights

all content © Umuzi, Random House Struik

Random House Struik

this website designed and maintained by Guanaco.co.za