Umuzi Rights Catalogue Buy Umuzi Books Contact Umuzi Umuzi Books Umuzi Writers Umuzi Home Page



222 mm x 146 mm sagteband, 240 bladsye
AVP R200, ISBN 978-1-4152-0092-6
Publikasiedatum: September 2009, Kategorie: Fiksie


Beskrywing
Hierdie boek deur Alan D Elsdson vertel van ’n skrikbewind wat besaai was van politieke moorde in een man se fanatieke oorlog teen die kommunisme. Generaal Lang Hendrik van den Bergh was vir baie mense die mees gevreesde man van die ou Suid-Afrika. Hy was hoof van die Buro vir Staatsveiligheid (boss, op Engels), en dis van sy bedrywighede dat Die lang generaal vertel – op ’n feitelike basis, maar met die inkleding van waarskynlike scenario’s waar feite nie bekombaar is nie.
Volgens die boek sou Van den Berg betrokke kon gewees het by die sluipmoord op HF Verwoerd, die dood van Nic Diederichs, en van Steve Biko, asook die moorde op Anton Lubowski en prof. Johan Heyns.
Twee van die opspraakwekkendste moorde waarmee hierdie boek die generaal verbind, is dié op dr. Robert Smit en sy vrou in 1977. Hierdie moordraaisel is nooit opgelos nie, maar hier word oortuigend aangevoer wat die geheimsinnige woorde “rau tem” kon beteken wat op die Smit-egpaar se kombuismuur gevind is.
Vanaf ’n ontmoeting van geesgenote in die Koffiefonteinse interneringskamp, deur die paranoïese jare sestig, die omgekrapte sewentigs en deur die Inligtingskandaal wat die NP-establishment geskud het, teken hierdie boek ’n skrikwekkende beeld van ’n bewind se agente wat deur ideologie oor die morele afgrond gedryf is.

Also available in English as The Tall Assassin.

Uit Die lang generaal, bladsy 109
In die vuil spel van internasionale spioenasie is dit tegniese vermoë wat een agentskap ’n voorsprong bo die ander gee. Hendrik van den Bergh het reuse-bedrae geld bestee om te verseker dat Boss van die mees gesofistikeerde tegniese toerusting in die wêreld het. Met die beste radio-, waarnemings- en teen-waarnemingstoerusting op die regte plekke, kon Boss baie van sy mededingers die loef afsteek. Om die toerusting behoorlik te installeer en sy personeel op te lei, het Van den Bergh in die geheim tegniese deskundiges uit Israel na Suid-Afrika gebring. Hy was vasbeslote om meeluistertoestelle in elke hoekie en gaatjie waar vriend en vyand bedrywig was, aan te bring.
        “Jy kom nie nader aan die waarheid as uit die perd se bek nie,” het hy aan sy mense gesê. Dan het sy geliefkoosde spreuk gevolg: “En onthou, kennis is mag.”
        Die eerste volledige radio-spioenasiestasie is op ’n heuwel buite Pretoria aangebring, die tweede op die terrein waar Sharp en sy twee kollegas gewoon het.
        In ’n voorval wat later “Spioene in die lug” gedoop is, is ontdek dat Bossagente kajuitbemanningslede van die Suid-Afrikaanse Lugdiens gewerf en opgelei het. Boss-agente het die daaglikse passasierslyste bestudeer wat bronne in die lugdiens aan hulle verskaf het. Op plaaslike, maar veral internasionale vlugte, het die opgeleide SAL-personeel meeluistertoestelle in geheime plekke bo die sitplekke van bepaalde passasiers geplaas. So is die gesprekke van politieke “verdagtes” opgeneem. Die kassette is in diplomatieke sakke gesit en by die onderskeie bestemmings aan Boss-agente oorhandig. Die media het op Boss losgebrand en hom daarvan beskuldig dat hy die basiese menseregte van sy slagoffers aantas.

Lees verder

Lees Ockie Geyser se resensie in die Volksblad.

Lees ’n resensie deur Hannelie Booyens in Huisgenoot hier.


Om hierdie boek te koop
www.exclusivebooks.com
www.kalahari.net





home   writers   books   contact   buy   rights

all content © Umuzi, Random House Struik

Random House Struik

this website designed and maintained by Guanaco.co.za